Local is Lekkerrrrrrrr

Thursday, August 20, 2009

Apartheid Sci-Fi Film

Apartheid en die ruimtewesens

SARIE - Augustus 2009

Dit word bestempel as een van die oorspronklikste sci-fi-rillerflieks in jare - glo die wêreld se eerste ''outobiografiese'' alien-Apartheidsfilm. Ons eie Neill Blomkamp, 'n SA regisseur van kortfilms en advertensies wat al geruime tyd in Vancouver, Kanada, woon, was die skrywer en regisseur. District 9 is in samewerking met die baasbrein agter Lord of the Rings, die Oscar-bekroonde Peter Jackson, vervaardig.
Bid jou aan! In die fliek is honderdduisende ruimtewesens in Johannesburg gestrand ná hul ruimtetuig hier onklaar raak. Natuurlik is die onooglike spulletjie glad nie welkom nie, en word hulle na 'n vlugtelingkamp met doringdraad omhein aan die buitewyke van die Goudstad verban - dié heet District 9.
Onmiddellik is die parallelle tussen District 9 en die Apartheidsera tussen die lyne leesbaar. Blomkamp het tydens Apartheid in Johannesburg grootgeword en beskou dit as vormingsjare wat 'n belangrike invloed op sy kreatiewe siening vandag het.
Sy jarelange vriend en akteur Sharlto Copley speel die rol van Wikus van der Merwe. Hy werk vir die MNU, 'n groot korporatiewe instelling wat die ruimtewesens uit die ''plakkerskamp'' op 'n ander plek wil hervestig. Maar intussen word hy besmet met alien-liggaamsvloeistof, en sake verander . . .
Die res moet jy maar self uitvind wanneer District 9 vanaf 28 Augustus op die grootskerm hier draai. (Bron: Los Angeles Times)

Nog foto's uit District 9

Lees 'n onderhoud met die hoofkarater, Wikus van der Merwe (gespeel deur Sharlto Copley)

No comments:

Post a Comment

Scroll through Travel Treasures

I like it

Related Posts with Thumbnails